Perspektiewe op die gebruik van Kruisrasbulle in Kommersiele Vleisbees Produksie


Perspektiewe op die gebruik van Kruisrasbulle in Kommersiele Vleisbees Produksie

SJ Schoeman Departement Veekundige Wetenskappe, Universiteit van Stellenbosch

Kruisteling is in baie lande van die wêreld vir baie jare reeds 'n standaard telingspraktyk. In opnames in die VSA gedoen, is getoon dat ongeveer 80% van die vleisbeeste bemark, kruisings is. Ooreenstemmende syfers in Kanada is ongeveer 90% en Australië (Sundstrom et al, 1994). In Suid-Afrika is na skatting minstens 60% van beeste wat deur voerkrale aangekoop word, kruising. Kruisteling is dus wêreldwyd van die allergrootste belang. Opnames het aan die ander kant weer getoon dat kruisteelstelsels meestal swak beplan en betreklik oneffektief is. Die persentasie 'effektiewe' kruisteelstelsels varieer vir die VSA, Australië en Nieu-Seeland tussen slegs 15 en 45% (Sundstrom et al, 1994)

Alhoewel die verhoging in dierprestasie vanweë die benutting van heterose/basterkrag teoreties van beide die manlike en vroulike dier afhanklik is, het kruisteling veral gebaat by die gebruik van die kruisrasmoeder. Materne prestasie word hierin gerieflikheidshalwe as 'n komponent van nageslagprestasie gemeet en is hoofsaaklik die resultaat van beter moederlike vermoë, bv. deur verhoogde melkproduksie en reproduksievermoëns. Hierdie verhoging kan, wanneer as 'n saamgestelde eienskap (bv. totale kalfgewig by speen per 100 koeie gepaar) uitgedruk, aansienlik wees.

By verskeie geleenthede is die gebruik van kruisrasbulle in kruisteelstelsels deur sommige veekundiges as moontlikheid genoem en in sommige gevalle selfs sterk gepropageer. Ons moet egter, wanneer ons van kruisrasbulle praat, onderskeid tref tussen kruisingsbulle in die ontwikkeling van komposiete/sintetiese populasies en F1 bulle vanuit kruisings tussen twee suiwer rasse verkry. Dit mag wees dat hoe kwaliteit bulle uit eersgenoemde meer geredelik beskikbaar kan wees in teenstelling met wat in laasgenoemde die geval kan wees. Hierdie bespreking het hoofsaaklik op laasgenoemde betrekking.

'n Vraag wat sekerlik gevra kan word, is waarom sou produsente dit hoegenaamd oorweeg om kruisingsbulle te gebruik. Na my mening sou slegs die volgende oorwegings geldig kan wees, naamlik:

  • Deur 'n verhoging in prestasie te bewerkstellig
  • Omdat kruisingsbulle goedkoper mag wees

Die invloed van kruisrasbulle op speengewig

Navorsingsresultate waarin kruisrasbulle geevalueer is, is betreklik beperk in vergelyking met die evaluering van kruisraskoeie van verskillende rasse, waar 'n magdom van inligting beskikbaar is. Dit illustreer dan ook die waarde wat aan die kruisrasmoeder geheg word. Die bydrae van kruisrasbulle in die verhoging van speengewig word aan die hand van 4 proewe, waarvan 2 in die VSA en een in Australië uitgevoer is, aangebied

Tabel 1: Gemiddelde speengewigte (205 d) in kruisings tussen Angus,

Suiwer rasse 186 kg
F1 kalwers vanaf suiwer koeie 200 kg
 
Suiwerras bulle op F1 koeie 208 kg
Kruisrasbulle op F1 koeie 199 kg
 

Tabel 2: Gemiddelde speengewigte van kruisings tussen Brahman en Hereford (Robertson, 1986) (Texas, VSA).

Ras van koei Ras van Bul      
  Brahman F1 Hereford Gem.
Brahman 166 185 202 184
F1 190 194 205 196
Hereford 174 172 167 171
Gemiddeld 177 184 191  

Tabel 3: Gemiddelde speengewigte van kruisings tussen Brahman en Hereford (Arthur et al., 1995) (N.S.W., Australië)

Ras van koei Ras van Bul      
  Brahman F1 Hereford Gem.
Brahman 232 245 258 245
F1 261 263 263 262
Hereford 260 250 239 250
Gemiddeld 251 253 253  

Tabel 4: Prestasie afwyking vir geboorte- en speengewigte van die nageslag van kruisrasbulle vanaf die nageslag van suiwerrasbulle (Thrift & Aaron, 1987) Opsomming VSA data).

Kruisings Persentasie verskil  
  Geboortegewig Speengewig
Bt. Bt. -1 0.1
Bi. Bt 0.7 0.6

Vanuit die studies kan kortliks die volgende gevolgtrekkings gemaak word, naamlik:

  • Dat die gebruik van F1 bulle geen verhoging in speengewig bo die van suiwerrasbulle tot gevolg gehad het, nie.
  • Dat kruisraskoeie gemiddeld 13% swaarder speenkalwers geproduseer het.

Die verbetering van enige eienskap a.g.v. die gebruik van kruisrasvaders sou 'n model vereis waardeur die manlike dier die prestasie van die nageslag sou beïnvloed deur 'n meganisme anders as sy bydrae deur die monsteringshelfde van sy kerngene wat hy aan sy nageslag oordra. Sulke meganismes bestaan gewoonlik nie waar dierprestasie ter sprake is nie. In hoogs uitsonderlike gevalle, soos byvoorbeeld in fetale ontwikkeling (Moor & Reik, 1996), is daar wel 'n meganisme ter sprake wat hierdie eerste oorerwingswet van Mendel ongeldig maak. Op grond van additiewe genetiese teorie sal dit dan ook teoreties maklik wees om die prestasie van kruisrasbulle betreklik akkuraat te kan voorspel.

In die geval van vroulike kruisings, sluit die model die materne effek in wat 'n addisionele bydraende invloed op die prestasie van haar nageslag het. Dit is dan om dié rede dat tradisioneel kruisingskoeie in kruisteelstelsels gebruik word.

In die algemeen is daar dus geen getuienis, beide in teorie en in praktyk, wat daarop dui dat die gebruik van kruisrasvaders geboortegewig, speengewig, voorspeense- en naspeense groei hoegenaamd addisioneel verbeter nie. Vanuit die oogpunt gesien, hou die gebruik van kruisrasbulle geen voordele in nie. Dit kan trouens eerder kruisteelstelsels aansienlik kompliseer en oneffektief maak.

Variasie in die nageslag van kruisbulle

Dit word dikwels voorgehou dat die nageslag van kruisrasbulle meer varieer of teoreties meer behoort te varieer as die van suiwerrasbulle. Alhoewel proefresultate in dié verband uiters beperkend is, is dit egter so dat geen betekenisvolle verskille in die variasie van die nageslag van suiwerras- en kruisrasbulle verkry is nie (Hokenboken, 1985). In die geval van skape is daar vir groei- en karkas eienskappe selfs minder variasie in die nageslag van kruisrasramme aangetoon (Bradford et al., 1963: Bidner et al., 1978; Stritzke et al., 1984)

Indien eienskappe deur baie gene beïnvloed word, soos trouens met meeste ekonomies belangrike eienskappe by vleisbeeste die geval is, sou ook verwag word dat dit a.g.v. monteringsteorie onwaarskynlik is dat genetiese variasie deur die gebruik van kruisrasbulle sou verhoog. Dit sou ook aansienlik moes verhoog ten einde 'n merkbare verhoging in fenotipiese variasie waargeneem sou kon word.

Die invloed van kruisrasbulle op vrugbaarheid

'n Verskeidenheid van studies het getoon dat kruisrasbulle geslagtelik vinniger ontwikkel as suiwerrasbulle en meer vrugbaar is. Verskille tussen kruisrasbulle en hulle ooreenstemmende suiwerrasgenote word opsommenderwys in Tabel 5 aangetoon.

Tabel 5: Persentasie afwyking van kruisrasbulprestasie vanaf suiwerrasbulprestasie vir vrugbaarheidseienskappe (Thrift & Aaron, 1987) (Opsomming, VSA data).

Eienskap    
Ouderdom by geslagrypheid Bt.Bt -5
Ouderdom 1st dekking Bt.Bt -6.1
Spermkonsentrasie Be.Bt 36.4
  Bi.Bt 56.1
Spermbeweeglikheid Bt.Bt 33.3
  Bi.Bt 10
Spermabnormaliteite (%) Bi.Bt 23.1
Skrotumomvang Bt.Bt 4.4
  Bi.Bt 8.4
Persentasie koeie dragtig Bt.Bt 0.2
  Bi.Bt 1.4
Speenprestasie Bi.Bt 4
  Bi.Bt 3.7

Waar Bt - Bos taurus
         Bi - Bos indicus

Dragtigheid was ongeveer 8 dae korter waar kruisingsbulle gebruik is (beide BT.Bt en Bi.Bt)

Daar kan verder ook met reg vermoed word dat sulke bulle 'n hoer libido en ietwat langer gebruikslewe mag hê, alhoewel laasgenoemde nie van enige praktiese of ekonomiese betekenis sou wees nie. Alhoewel daar dus 'n klein tot selfs aansienlike voordeel i.t.v. reproduksie-eienskappe in die guns van die kruisrasbul is, dit nie juis in die prestasie van die koeikudde gereflekteer nie, soos deur die klein verskil in speenpersentasie uitgedruk. Die verskille in kalf- en speenpersentasies kan waarskynlik ook aan 'n moontlike hoer libido by kruisrasbulle te wyte wees. Die ietwat hoër speenpersentasie (�4.%) is veel eerder die resultaat van laer neo- en postnatale mortaliteite van die kruisingskalf as die gevolg van die gebruik van die kruisingsbul. Daar blyk dus 'n beperkte voordeel in die gebruik van kruisrasbulle bo suiwerrasbulle i.t.v. produktiwiteit van die koeikudde te wees.

Kruisrasbulle in die produksiestelsel

 

Dit sou uiteraard kortsigtig wees om die gebruik van kruisrasbulle slegs i.t.v. enkele eienskappe te beoordeel. Die totale produksie en veral die winsgewendheid van die vleisbeeskudde is nie net van enkele eienskappe afhanklik nie. Op produksievlak is ekonomiese doeltreffendheid en ook wins die resultaat van 'n groot verskeidenheid faktore wat nie noodwendig 'n liniêre funksie daarvan is nie (Notter, 1987). Die moontlike voordeel in die gebruik van die kruisrasbul le dan nie slegs in die paterne heterose versus materne heterose van die kruisraskoei gesetel nie, maar is ook in 'n groot mate van die omgewing waarin die stelsel opereer, afhanklik.

Netto wins per eenheidsproduk kan gedefinieer word 'n funksie van drie komponente te wees, naamlik:

  • Die produkwaarde
  • Die koste van produksie en
  • Die koste van reproduksie (Moav, 1966)

Hierbenewens het die nageslag (produk), vader en moeder 'n bydrae tot netto winsgewendheid van die stelsel te lewer deur die koste wat met elk geassosieer word. Netto wins kan dus tot 9 komponente hê, wat die rol van die nageslag, vader en moeder op elke komponent van netto wins reflekteer. Dit kan as volg voorgestel word:

Invloed van die Produkwaarde Koste van produksie Koste van produksie
Bul   Laag  
Nageslag      
Koei   Hoog  

Indien een of meer van dié komponente nie gelyk tot wins bydrae nie, soos slegs in een geval hierbo aangetoon, is die winsgewendheid van die kruisrasnageslag nie gelyk aan die gemiddelde winsgewendheid van die twee ouerrasse nie. As die direkte bydrae van die bul en die koei dus ongelyk is, soos bv. vanweë die materne effek op produkwaarde, wyd die winsgewendheid van die kruisingspaar af vanaf die teoretiese midouer winsgewendheid. Hierdie situasie staan in die literatuur dikwels bekend as winsheterose, nie liniêr heterose of vader-moeder heterose. Belangrik egter is dat die keuse van 'n vaderras(se) nie onafhanklik van die keuse van die moederras is nie. Die keuse van rasse in 'n kruisteelstelsel wat maksimum wins in 'n bepaalde omgewing sal lewer, is dus nie 'n eenvoudige saak nie. Die keuse van 'n geskikte kruisrasbul wat hoe winsheterose sou gee, is dus veel moeiliker en gekompliseerd.

Vanweë die situasie, wat meestal ook in stresomgewings geld, kan die gebruik van kruisrasbulle wel voordele inhou ten einde 'n ideale genotipe daar te stel. Die gebruik van Bos taurus x Bos indicus (of vice vers) kruisingsbulle in sulke omgewings is bekend. In praktiese en ekonomiese terme beteken dit dat vir maksimum wins in 'n bepaalde omgewing, daar 'beste' raskombinasies is wat nie die moontlik gebruik van kruisingsbulle uitsluit nie. In die praktyk vind die teling en gebruik van sulke bulle veel eerder inslag in die ontwikkeling en vestiging van komposiete of sintetiese rasse (bv. Simbra, Brangus, bonsmare ens.), eerder as die aanwending van F1 kruisingsbulle uit suiwerraskrusings

Ter opsomming kan ons dus die volgende se:

  • Die grootste voordeel in kruisteling is in die gebruik van kruisingsmoeders gelee.
  • Kruisingsbulle verhoog/verbeter nie individuele eienskappe meer as wat suiwerrasbulle dit kan doen nie,inteenstelling met wat die geval by die kruisingskoei is nie.
  • Akkurate teelwaardes van sulke bulle is gewoonlik onbekend en kan eer beskikbaar raak as multirasevaluerings 'n werklikheid word (Pollak & Quaas, 1998). Die beskikbaarheid van hoe gehalte kruisrasbulle word ook bevraagteken, aangesien kruisteling nie juis in die geneties beste kudde toegepas word nie. Kruisingsbulle lyk of vertoon soms goed as gevolg van hulle eie heterose of die heterose van hulle kruisingsmoeder. Hierdie meerderwaardigheid kan egter nie na die nageslag oorgedra word nie.
  • Die gebruik van kruisrasbulle (veral F1) kan kruisteelstelsels kompliseer en selfs minder doeltreffend maak as bestaande suiwer rasse.
  • Kruisrasbulle het hoofsaaklik meriete in die ontwikkeling van sintetiese rasse waar daar 'n behoefte aan is. Beter gehalte bulle behoort ook meer geredelik uit sulke kuddes beskikbaar te wee.

Dus: As teler nie daartoe in staat is om kruisteelstelsels gehoorlik te kan beplan en uit te voer nie, dit beter is om by suiwer teling te bely, hetsy of dit met suiwer rasse of erkende komposiete is.

VERWYSINGS
ARTHUR, P.E. et al., 1995. Proc.Aust.Assoc. Breed. Genet.11,147
BIDNER, T.D. et al., 1978. J. Anim. Sci. 47,114
BRADFORD, G.E. et al., 1963. J.Anim.Sci. 22,617
HOHENBOKEN,W.D., 1985. J.Anim.Sci.60.101
MOAV, R, 1966. Anim. Prod. 8,193
MOORE, T. & REIK, W., 1996. Rev. Reprod. 1,73
NOTTER, D.R., 1987. J. Anim. Sci. 65,99
PEACOCK, F.M. et al., 1986. J Anim. Sci.62,47
POLLAK, E.J. & QUAAS, R.L., 1998. Prod. 6th Wrld. Congr. Gent. Appl. Livest. Prod. 23,81
ROBERSON, R.L. et al., 1986.J. Anim. Sci. 63,438
STRITZKE, D.J. et al., 1984. J Anim. Sci. 58,1138
SUNDSTROM, B. Et al., 1994. Proc. 5th World. Congr. Genet. Appl., Livest. Prod. 17,280
THRIFT, F.A. & AARON, D.K., 1987. J. Anim. Sci. 65,128

Verseker Maksimum wins deur te meet en te weet

Ensure Maximum Profit by Measurement and Knowing


ARC - Animal Improvement Institute, Irene
LNR- Diereverbeteringsinstituut, Irene

Privaatsak/Private Bag X2 Irene, 0062
Tel: (012) 672 9111,Fax (012) 672 9065